Die Grondbeginsels van Liberalisme en Liberale Demokrasie

 

Liberalisme, soos die naam aandui, is die fundamentele oortuiging van ‘n politiese ideaal waarin mense vry is om hul eie doeleindes op hul eie maniere te bereik, mits hulle nie daardeur iemand anders se vryheid inperk nie. Maar wat is die basiese beginsels van liberalisme en liberale demokrasie?

Menseregte

Eerstens is daar die verbintenis tot fundamentele menseregte.  Fundamentele menseregte is byvoorbeeld die reg op menswaardigheid, lewe, vryheid van slawerny, godsdiensvryheid, vrydheid van oortuiging, vryheid van spraak, vryheid van assosiasie, ensovoorts.  Oor elk van hierdie menseregte word gedebatteer om vas te stel wat die presiese betekenis is: die reg op vryheid van slawerny is ’n absolute reg wat nie beperk kan word nie. 

Maar wat van vryheid van spraak?  ’n Bekende voorbeeld van ’n beperking hier is dat mens nie kan toelaat dat mense “brand” skree in ’n volgepakte teater as daar nie ’n brand is nie.  Gebeur dit wel, word paniek gesaai en mense sal seerkry in ’n poging om te ontsnap.  Liberale is egter gewoonlik besonder gekant teen die beperking van die vryheid van spraak, of sensuur, omdat dit gewoonlik deur regerings gebruik word om mense en standpunte te onderdruk wat verskil van wat die regering wil hê mense moet glo of sê.

Gelykheid

Onder fundamentele menseregte is reg op gelykheid van besondere belang.  Soos in die geval van ander fundamentele regte word debat gevoer oor wat presies gelykheid beteken:  alle liberale sal saamstem dat gelykheid beteken dat daar geen diskriminasie mag wees nie.  In die hof, kan daar byvoorbeeld nie gediskrimineer word op grond van kleur (wit of swart), geslag (manlik of vroulik) of godsdiens (Christen of Moslem) nie. 

Daar is byvoorbeeld steeds plekke waar wat ’n vrou in die hof sê nie dieselfde gewig dra as wanneer ’n man dit sê nie.  Dit is duidelik ongelyke behandeling.  Maar beteken gelykheid ook dat almal dieselfde salaris moet kry of in dieselfde tipe huis moet bly? 

Liberale sal “nee” sê, maar hulle sal daarop aandring dat alle mense dieselfde geleenthede moet hê om hul lewens te verbeter – daarom die klem op verbeterde onderwys vir alle Suid-Afrikaners.  Kortom, liberale glo in gelykheid voor die wet en gelykheid van geleentheid.

Regsoewereiniteit

Hierdie verbintenis tot fundamentele menseregte gaan hand aan hand met liberale se verbintenis tot regsoewereiniteit.  Regsoewereiniteit is ’n stel beskermingsmaatreëls teen arbitrêre en tiranniese behandeling deur die owerhede.  In die hof moet die regter byvoorbeeld onpartydig wees en nie dieselfde persoon as die aanklaer nie (met ander woorde hy of sy kan nie sowel speler as skeidsregter op dieselfde tydstip wees nie).  Almal, insluitend die regering, moet gelyk wees voor die reg – ongeag wie hy of sy ook al is. 

Enigeen wat teregstaan vanweë ’n misdaad moet presies weet waarvoor hy aangekla word sodat hy homself kan verdedig.  Almal is onskuldig tot skuldig bewys.  Regters moet onafhanklik wees, met ander woorde die regering of enigiemand anders mag nie aan hulle voorskryf wat om te doen of hulle dreig nie.  

Die uitsprake van die howe moet konsekwent wees, met ander woorde soortgelyke sake moet ’n soortgelyke uitslag hê.  Kortom, regverdigheid moet geld in die wyse waarop mense deur die owerhede behandel word.

Al bogenoemde gaan hand-aan-hand met liberale se oortuiging dat die regering en die staat ooreenkomstig met die wet moet funksioneer en dat sekere fundamentele beginsels nie verander kan word nie selfs al wil die regering so maak (byvoorbeeld die reg op menswaardigheid).  Sulke fundamentele beginsels word dikwels, maar nie altyd nie, vasgelê deur middel van ’n land se grondwet.

Individuele vryheid

Die basis van hierdie liberale oortuigings is die belangrikheid wat liberale heg aan die individu en sy of haar regte en verantwoordelikhede.  Elke enkele persoon is belangrik.  Liberale glo dat mense vir hulleself moet besluit en nie gedurig voorgesê moet word wat om te doen nie.  Hulle moet vry wees om die lewe te lei wat hulle wil, mits hulle nie daardeur iemand anders se vryheid inperk nie.  

Met ander woorde, jou reg om jou arms vryelik om jou te swaai, stop wanneer jy iemand raakslaan.  Individuele vryheid ondervang al die ander beginsels wat reeds gelys is.  Daarmee saam vereis liberalisme geduld met verskillende opinies en,  moeilikste van almal, opinies wat verskil van jou eie.  ’n Bekende skrywer het eenkeer gesê: “Ek verskil van jou, maar ek sal tot die dood toe jou reg om dit te sê verdedig.”

Eiendomsreg en ‘n vryemark

Liberale brei ook die idee van individuele regte en vryhede na die ekonomiese veld uit.  Uiteraard het die konsep van private eiendomsreg histories gesproke die basis gevorm van individuele vryhede en individuele regte.

Eerstens is daar die beginsel dat mense eiendom kan besit.  Op sy mees eenvoudige vlak beteken dit dat elke persoon hom of haarself besit, en kan daarom nie deur enige iemand anders besit word nie, m.a.w, niemand kan ‘n slaaf wees nie.  So’n vrye persoon kan ander eiendom besit, soos klere, boeke, meubels, grond, huise, motors en selfs idees, anders bekend as intellektuele eiendom.

Tweedens moet eienaars van eiendom in staat wees om vreedsaam by mekaar te kom ten eind hulle eiendom vrylik te verkoop en andere se eiendom te koop.  Liberale glo dat die staat so min as moontlik moet inmeng in hierdie vryemark. 

Dit vloei saam met die idee dat almal geregtig is tot vrye ekonomiese aktiwiteite, m.a.w. die staat moet nie vir my voorskryf wat se werk ek moet aanvaar, wat se beroep ek myself in moet bekwaam of wanneer ek ‘n besigheid moet open of sluit nie. 

Ek moet toegelaat word om te doen wat ek die beste doen.  Liberale stel die vraag hoe vry ‘n persoon werklik is indien hulle sulke belangrike besluite nie vir hulself kan maak nie.  So ‘n verduideliking moet gesien word in verband met vorige punte wat gemaak is oor individuele vryheid, aangesien dit ‘n vrye uitruiling van idees en opinies vereis.

Derdens twyfel baie liberale of die staat hoegenaamd betrokke moet wees by besigheid: Maatskappye wat deur die staat besit word, soos vlugrederye, spoorwee, water en elektrisiteit, verskaf gewoonlik hulle dienste teen ‘n verlies en moet in stand gehou word deur landsburgers te belas. In dieselfde asem betaal die klante van hierdie staatsmaatskappye oor die algemeen meer vir sulke dienste as wat hulle sou betaal aan private maatskappye wat kompeteer vir klante en besigheid. 

Wêreldwye ervaring ondersteun die liberale idee dat slegs wedywering goeie dienste en pryse verseker, byvoorbeeld plaaslike telefoonoproepe in die Verenigde State is gratis sedert privatisering en kompetisie ingestel is.

Vierdens aanvaar liberale dat daar nie gelyke toegang bestaan tot die mark nie. Aangesien liberale glo in gelyke geleenthede in die mark, is die doelwit van liberale nie om die mark op te skort nie, maar om mense in staat te stel om deel te wees van die mark en voordeel daaruit te put.  Hulle wil wegdoen met burokrasie en onnodige beperkinge wat mense in die gesig staar, en eerder beter toegang tot opvoeding en opleiding bewerkstellig, sodat die nodige inligting beskikbaar is om mense by die mark in te sluit.

Liberale demokrasie

Streng gesproke is demokrasie nie een van liberalisme se kernwaardes nie, maar alles bymekaargetel, is demokrasie die enigste politieke stelsel waaronder hierdie waardes werklik kan bestaan.  Om meer presies te wees:  liberale glo ’n liberale demokrasie is nodig, nie ’n ‘eenpartydemokrasie’ en nie ’n ‘volksdemokrasie’ nie.  Dit is nie genoeg vir ’n liberale demokrasie om eenvoudig gereelde verkiesings te hou as daar net een party is waaruit gekies moet word, of as die meerderheid ’n regering kies wat belowe om alle lede van ’n sekere groep of klas dood te maak, of indien alle burgers bo ’n sekere ouderdom nie toegelaat word om te stem nie.  

’n Liberale demokrasie vereis vry en regverdige verkiesings wat gereeld gehou word en waarin alle burgers (gewoonlik 18 jaar en ouer) toegelaat word om te stem – maar dit vereis daarby al die kernwaardes wat hier beskryf word: die verbintenis tot fundamentele menseregte, gelykheid, regsoewereiniteit en individuele vryheid.

Nog ’n belangrike aspek van liberale demokrasie is “verdeling van magte”.  Dit beteken dat daar een liggaam is wat die mag het om wette te maak (die parlement), ’n ander liggaam wat die mag het om daardie wette te implementeer (die regering of die ‘uitvoerende gesag’) en ’n derde liggaam (die howe) wat die mag het om dispute en verskille te besleg wat uit hierdie wette mag voortspruit.  Liberale glo dat hierdie magte nie in dieselfde hande moet wees nie, omdat dit baie maklik kan lei tot die misbruik van mag asook korrupsie. Deur hierdie magte te skei, dien hierdie liggame (parlement, die uitvoerende gesag, die howe) as wigte en teenwigte tot mekaar.

Daar is ander liberale waardes wat ook baie, baie belangrik is soos die reg op die besit van privaateiendom of die reg op vrye ekonomiese aktiwiteit.  Daarmee saam is empatie ook ’n liberale waarde binne die Suid-Afrikaanse liberale tradisie.  Baie liberale glo dat hierdie en ander waardes outomaties vloei uit die geloof in fundamentele menseregte en  vryheid van die individu.

Anders as sommige ander politieke stelsels gee liberalisme nie voor om ‘wetenskaplik’ te wees nie, of dat ’n mens kan meet hoe ‘suiwer’ ’n liberaaldenkende is nie.  Liberalisme is ’n baie dinamiese, aanpasbare en pragmatiese oortuiging wat oplossings bied vir vandag se probleme.  ’n Liberale demokrasie is die beste waarborg teen misbruik van mag en die korrupsie wat daarmee gepaard gaan.*

Vir meer inligting lees:

Welsh, D. “The Liberal Inheritance” in Johnson, RW and Welsh, D   “Ironic Victory - Liberalism in post-liberation South Africa” (1998)  Oxford University Press: Cape Town

 

<<Back

 

-INDEX- -About us- -Country Offices- -News Archive- -Media- -Books-

 -Liberal Partners- -Liberal Thinkers- -Specials- -Contact-

Copyright © 2004 Friedrich Naumann Foundation Africa
These articles may be republished without prior consent but with acknowledgement.

The Friedrich Naumann Foundation can not be held  responsible for the content found on external links